Donkiekar

Voorwoord:

In 2009 kry ek inligting per e-pos dat die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) 'n skryfkompetisie hou. En so besluit ek toe om te gaan kyk. Geen van die onderwerpe geval my egter nie. Sulke regte ou sinnelose onderwerpe wat kinders op skool tydens ekamens die donner inmaak. "Hoekom", dag ek by myself, "is daar nie ruimte gemaak vir diegene soos ek wat nie in bokse WIL dink nie. Dis so asof diegene wat die onderwerpe kies se breine so geblik is dat hulle nie lateraal kan dink nie. Ek druk toe maar my oë toe, druk my vinger op die rekenaarskerm... en daar staan dit, wit op swart: "Op 'n donkiekar deur die Karoo".


Ergste was later, nadat ek my vrek geswoeg het om die donkie aan die loop te kry en op die pad te probeer hou, dat ek toe ontdek die proses van indiening is nog erger uit die ark uit as die onderwerp van die essay. Geen elektroniese indiening word toegelaat nie, geen geregistreerde pos: slegs gewone poskantoorpos was aanvaarbaar. Hulle vrywaar hulle ook dat hulle erkenning van ontvangs doen nie. Verdomp! Wat 'n oop pot heuning vir korrupsie! Ek sal nou nooit weet of my donkiekar toe ooit in Bloemfontein aangekom het nie. Dis die dat ek besluit om hom maar hier te publiseer!

Net nog dit: toe ek vir 'n jeugdige vriendin wat ook skryf die sage vertel, deel sy my mee dat toe sy as skolier ingeskryf het vir 'n onderwerp "Die Rooi Deur", die BSV haar skool laat weet het sy moet verwys word vir sielkundige berading! 

Dus: as ek nou 'n e-pos kry oor BSV kompetisies, druk ek summier die "delete" knoppie. Nogtans was Die Donkiekar groot pret om te skryf: Dankie, BSV.


Op 'n donkiekar deur die Karoo

Skuilnaam: "Webkruipertjie" 

Totale aantal woorde: 2,458. Totale aantal karakters: 13,673.


Word wakker. Hallo. Dis die jaar 2009. Wie sou wou lees oor donkiekarre deur die Karoo? Meer nog: wie sou daaroor wou skryf?

Tog, as mens in 'n skryfkompetisie gekonfronteer word met 'n onderwerp soos “Op 'n donkiekar deur die Karoo”, is die blote feit dat iemand op hierdie aardbol energie spandeer het om so 'n titel as onderwerpkeuse uit te dink, genoeg rede op sigself om aktueel daaroor te (probeer) besin.

Die slagyster is egter: om oor 'n onderwerp te skryf, moet die skrywer weet waarvan hy praat. En dis net hier waar die probleem inkom. Meeste mense in 2009 maak nie eens plek in hulle brein lobbe om kennis oor donkiekarry te stoor nie, want dis kennis wat nie waarde toevoeg tot hulle dag-tot-dag se geswoeg om oorlewing nie.

Ek is effe meer gelukkig, want ek het op 'n plaas grootgeword waar daar nog donkies was. Ons plaas was weliswaar nou nie in die Karoo nie, maar in Wes-Transvaal. Ek is dus gemaklik met donkies, want 'n donkie is 'n donkie is 'n donkie, maak nie saak waar hy woon nie.

Wat die Karoo aanbetref. Ek is eerlik as ek sê ek ken die Karoo hoofsaaklik van boekekennis soos in Aardrykskunde, en van sien. Mens moet darem 'n ruk op 'n plek gewoon het om hom regtig te ken.

Ek het al deur die Karoo gery, ja: 'n paar maal. Per trein. Per motor. Selfs as passasier agter op 'n motorfiets. Ek het al oor die Karoo gery, ja: 'n paar maal. Per vliegtuig. Maar nee: ek het nog nooit per donkiekar deur die Karoo gery nie. En ek sal seker ook nooit. Waarom sou ek wou? Waarom sou enigiemand wou, tensy jy daar woon en noodwendig 'n donkiekar besit?

Wat ek wel op ons plaas geleer het is dít: as jy nie donkies ken nie, moenie met hulle lol nie. Donkies is op hulle beste onvoorspelbaar, dikwels befoeterd en is nie troeteldiertjies wat met onkunde aangepak moet word nie. Hulle byt is seer en hulle skop kan dodelik wees. Hulle is interessante diere en debatteerbaar intelligent. Maar donkiekarry sit beslis nie in almal se broek nie.

Gekonfronteer met die onderwerp “Op 'n donkiekar deur die Karoo”, begin ek toe soek na 'n donkiekar. Een om op te klim en deur die Karoo te ry. Die voorhandliggende sou wees om 'n imaginêre donkiekar te soek met 'n Sampie en Saartjie daarop, getrek deur 'n Vaaltuin en 'n Jakob, 'n lekker sopstorie oor hulle op te maak, en daar gaan ons! Hoe vervelig voorspelbaar.

Dis toe dat ek besluit: vra die orakel Google. So het dit dan gekom dat ek 'n virtuele donkiekar rit deur die Karoo begin op die ses-en-twintigste dag van April, in die jaar twee-duisend-en-nege voor my rekenaar, in Kaapstad. Ek vra die internet orakel, huiwerig en sonder veel verwagting, vir “donkiekar”. Net so: “donkiekar”. In Afrikaans. Sonder “Karoo”.

Ek werk uit: dis presies 357 jaar en twintig dae nadat Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het in die Kaap. Toe was daar nie eens sprake van donkiekarre in Afrikaans nie, wat nog te sê donkiekarre wat spesifiek deur die Karoo moet reis. Maar, kan jy glo: die orakel vind vierduisend ses honderd en vyftig verwysings na Afrikaanse donkiekarre in die sterrehemel van die internet! Voorwaar merkwaardig, sou Jan van Riebeeck beslis gemeen het as hy dít sou kon sien.

Ek is skielik die ene oë: gretig om te lees wat die orakel gevind het oor een-en-twintigste eeuse Afrikaanse donkiekarre. My virtuele reis het begin. Die leisels is in mý hande. Ek sal moet hokaai as dit moet, sambok gee waar nodig, en stop vir rus en kos langs die pad.

Ek lees van 'n veertienjarige seun wat net vier dae voor mý donkiekarrit se begin, op sý donkiekar doodgery is toe hy voor 'n trein beland het. Weliswaar nie in die Karoo nie: dit was by Eendracht naby Leandra in Mpumalanga. En twee jaar tevore is 'n dertienjarige donkiekardrywer van die Verre Noorde dood toe sý donkiekar buite beheer geraak, teen 'n boom gebots en omgeslaan het. Hy is op slag dood toe hy onder die donkiekar beland het.

Daar is ook 'n storie van 'n aspirant boekhoudster wat in 2002 van 'n donkiekar afgeval het nadat 'n motor in die donkiekar vasgery het. Dit was naby Carolina in Mpumalanga. Sy het een en 'n half miljoen Rand van die Padongelukfonds fonds ontvang.

Inderdaad: donkiekarry kan lewensgevaarlik wees.

Die orakel vind heelwat skilderye en fotos van donkiekarre. Donkiekarre, met een, twee of drie insittendes. Op plekke soos die Kalahari, Karoo en selfs een met Tafelberg in die agtergrond.

Iemand met die skuilnaam “Donkiekar” hang 'n hele webwerf aan die uitspansel van die internet. “Donkiekar” toon 'n duidelike affiniteit vir 'n swart agtergrond en klein, moeilik-leesbare, blou lettertjies. Ek stop, en vergroot die klein letters maksimaal om behoorlik te kan sien en lees: “Hierdie tuiste is vir diep mense, dromers, sprokie prinse en prinsesse en gebroke harte.” Ek vertoef en lees 'n paar van die gedigte. Roerend mooi, maar dan onthou ek, ek moet aanbeweeg: my fokus is op 'n donkiekar deur die Karoo.

Tot my groot vermaak meld die orakel 'n ene Bob leBlanc. Bob leBlank is 'n jong Amerikaanse ouditeur wat vroeër vanjaar sowaar op 'n donkiekar deur Namibië wou reis!!! Van “Oranje tot Kunene”, lui sy webwerf. 'n Afstand van twee duisend kilometer. Hy het ses maande aan sy voorgenome avontuur beplan. Net om deur Langoor ore aangesit te word! Na slegs drie weke op pad, moes hy tou opgooi.

Bob leBlanc skryf voor sy tog: “Die Donkie Avontuur is vir my niks meer as ’n uiters astrante poging om iets te verkry wat nie op ‘n winkelrak te koop is nie, wat nie van die internet afgelaai kan word nie of by ‘n vriend geleen word nie. Ek vertrou dit (die reis) sal my vervul met dieselfde sensasie van opgewondenheid, frustrasie, hoop, terneergedruktheid, vreugde, vrees, eerbied en verwondering wat soveel avonturiers in die geskiedenis ervaar het.

Ja, meneer leBlanc, jy is reg: dit was 'n uiters astrante poging van 'n nuwe-wêreld mens wat met ou-wêreld se goed wil speel en dink dit sal maklik wees juis omdat dit uit die oude doos is. Ek glo nie jy sou enigsins beter gevaar het as jy eerder met 'n donkiekar op jou eie deur die Karoo wou reis nie. Die vraag bly: wie, behalwe so 'n astrante persoon soos Bob leBlanc sal in die hede van vandag deur die Karoo met 'n donkiekar wil ry?

Die orakel neem my verder en ek kom op 'n gedig af wat die vraag antwoord in mooier, skerper woorde as wat ek ooit self sou kon uitdink . Die digter is Naas Woes en hy skryf:

Drie paar oë kyk na vore
Soek die toekoms in die pad
Waarheen lei die uitgetrapte spore?
Waarheen wil die tyd hul vat? “

Ek maak die som met drie paar oë en werk uit dat Naas se donkiekar net die drywer op het. Die drywer met sy twee donkies ry en ry en ry, sonder visie, soos die pad hulle vat. Mense wat só aan hul gemaksones gebind is, se toekoms sit op hulle neuspunte. Die mens-donkie-band tema is universeel: kan in die Karoo wees, kan enige plek wees. Ek ken baie sulke mense wat maar net van dag tot dag agter hulle neuse aanfoeter en diesulkes het my nog nooit geïnteresseer nie.

Ek is skielik nie meer lus om deur die res van die orakel se soekresultate te blaai nie, maar as wetenskaplike is ek is gebonde tot my voor-af opgestelde doel. Ek verfyn dus my soeke na “Karoo” en vind 'n advertensie van 'n plaas waar gaste naby Oudtshoorn ritte op 'n donkiekar kan neem vir slegs vyf Rand. Ek wonder wat sal dit kos om die betrokke donkiekar te huur vir 'n hele rit deur die Karoo. As Bob leBlanc dié advertensie voor die tyd kon sien en oorweeg het, sou sy avontuur dalk 'n gelukkige einde kon hê. As ouditeur moes hy kon somme maak oor die risiko van sy eie “do-it-yourself” poging teenoor 'n kundige Oudtshoorn-donkiekar wat kompleet kom met donkies, tuie en ervare donkiekardrywer. Bob sou beslis baie meer van Afrika kon leer, en steeds by sy New York vriende kon roem oor sy donkiekar-chauffeer se Afrika vernuf.

Ek reis virtueel verder en kom af op 'n foto van 'n donkiekar wat by Riemvasmaak onderstebo lê met sy wiele in die lug. Op sy bak is die woorde “No storys” met die hand geverf in onegalige, groot, kinderlike letters. Geen stories. Ja. “No storys” vertel sy eie storie van wat gebeur as mense wat donkiekar in Riemvasmaak ry hulle bure in Engels wil beïndruk.

Uiteindelik gee die orakel 'n storie wat sak-pas op die tema van “Op 'n donkiekar deur die Karoo”. Dis 'n berig oor 'n ene Koos Baartman, 'n propperse donkiekardrywer wat vir vier-en-veertig jaar lank op 'n donkiekar deur die Karoo tuinvullis weggery het.

Oor so 'n berig sou mens dalk 'n verbeeldingsvlug kon neem om 'n storie te skryf. Tog, Koos Baartman se storie eindig vir my in 'n vreemde antiklimaks. 'n “Gelukkige einde” op die oog af, maar diep-diep agter dit sien ek 'n vreemde soort hartseer-hoop: die hartseer-hoop van die nuwe Suid-Afrika.

Koos Baartman, lui die berig in Oudtshoorn se plaaslike koerant, “De Hoorn”, van 7 Junie 2007, het uit die bloute 'n splinternuwe donkiekar en tuie ter waarde van R9 500 ontvang as geskenk. Die weldoener was die De Rust Donkiekarprojek, wat poog om die lewensgehalte van donkies te verbeter, onder meer deur tuie van gehalte en ligte, stewige donkiekarre aan donkiekar eienaars te voorsien.

Volgens die koerant het Baartman se twee donkies, Bloubok en Swartland, aanvanklik gesukkel om met die nuwe wa aan die loop te kom. Hulle was gewoond aan ’n swaar las op hul lywe en kon nie die nuwe, ligter wa agter hulle voel nie. Die arme donkies. Voor die ontvangs van die nuwe wa was Baartman herhaaldelik deur Oudtshoorn se Diere-beskermingsvereniging van die pad getrek. Die Dierebeskermingsvereniging het dus in die openbaar onderneem om ’n oog te hou oor Baartman, sy donkies en die nuwe kar.

Baartman, wat saam met sy twee kleinseuns die wa in ontvangs geneem het, het aan die koerant vertel dat hy sedert 1963 donkiekarre bestuur en dat die nuwe wa hom rede gegee het om nog lank te bly leef en donkiekar te ry.

Ek vra die orakel meer oor Baartman. Ek wil graag weet: dis nou byna twee jaar later. Was daar enige opvolg berig oor Baartman? Behandel hy nou sy donkies goed? Gaan sy kleinseuns aan met die besigheid?

Maar die orakel swyg oor Koos Baartman en neem my na Saartjie Baartman. Saartjie het in Gamtoos vallei gewoon, en ek wonder of sy en Koos dalk familie kan wees.

Ek volg dus die orakel en lees meer oor Saartjie Baartman. Ek lees, met respek en deernis, dat haar alombekende groot sitvlak die gevolg was van 'n genetiese toestand genaamd “steatopygia”. "Steatopygia" veroorsaak die neersetting van vetweefsel op die boud area. Dit begin reeds kleintyd en ontwikkel ten volle tydens 'n eerste swangerskap. Dit gaan gewoonlik gepaard met die vorming van verlengde skaamlippe wat soveel as 4 sentimeter onder die vagina kan uithang. Hierdie verskynsel het histories bekend gestaan as "hottentotsvoorskoot". Volgens die orakel was die “hottentotsvoorskoot” ook Saartjie se voorland, maar genadiglik is dit nie ten tentoongestel tydens haar hartseer lewe nie.

Die donkiekarrit deur die Karoo raak nou te rof vir my. Ek besluit om die orakel te verlaat. Die virtuele reis op 'n donkiekar deur die Karoo het my op plekke geneem wat ek nie in my wildste drome kon voorsien nie. Maar vir eers is dit genoeg.

Ek span uit. Wat sê al die stories nou eintlik? Beteken dit iets vir die moderne mens? Wat het die abstrakte landskap en reis van die orakel ontbloot?

My virtuele reis op 'n donkiekar deur die Karoo waarsku dat 'n outydse aanslag in 'n moderne wêreld gevaar inhou, ongeag van waar: donkiekar teen trein, donkiekar teen motor. Maar terselfdertyd, om vas te hou net aan outyds vrywaar ook nie gevaar nie: donkiekar teen boom.

My virtuele donkiekar reis bevestig dat donkies en donkiekarre steeds, na al die eeue, goeie teelsaad is vir verskeie genres van die kreatiewe kunste: dig, skryf, fotografie, skilder. Die mens se wese klou aan sy oer-ankers.

Ek het begin verstaan dat donkies en donkiekarre so 'n stukkie geloof en sekerheid saam met hulle dra: geloof in die verlede. Hulle kom vandaan waar daar nog góéd is. Die aarde. Die Karoo. Jesus se intog in Jerusalem. Daar waar die mens wéét van die verlede en van sy ankers.

My virtuele reis het my ook insig gegee dat 'n stukkie hoop, gegrein in nostalgie, saam met elke donkiekarrit gaan. Tog, onbewustelik vir die moderne mens, is dit 'n hoop wat beskaamd word deur apatie. Naas Woes se woorde het so raakgevat:

Drie paar oë kyk na vore
Soek die toekoms in die pad
Waarheen lei die uitgetrapte spore?
Waarheen wil die tyd hul vat? “

Op my virtuele donkiekar reis het ook ander reisigers ontmoet. Bob leBlanc en Koos Baartman. Elk van hulle versinnebeeld, op hulle eie unieke manier, 'n aspek van liefde. 'n Liefde met haat as antitese. Bob, weens sy liefde vir avontuur, het donkiekar kom ry uit vrye keuse en sy alie gesien. Koos is donkiekardrywer omdat dit hóm gekies het. Is Koos regtig lief vir donkiekarry? Sou hy anders kies as hy kon?

En Saartjie. As Saartjie Baartman noord gery het op 'n donkiekar deur die Karoo, sou niemand meer vandag van haar geweet het nie. Maar júís omdat sy nie het nie en eerder noord gery het op 'n skip op soek na baie geld, is daar vandag 'n monument by Hankey, en is haar naam virewig.

Sê die Bybel: “En nou bly geloof, hoop en liefde, maar die grootse hiervan is die liefde”. My virtuele reis op 'n donkiekar deur die Karoo het my laat verstaan dat elke mens 'n Karoo het waardeur hy of sy moet ry. Dat ritte wat sonder geloof aangepak word sukkel met die konsep van hoekom. Dat ritte wat sonder hoop aangepak word sukkel met die konsep van visie. En dan ritte wat sonder liefde aangepak word, sukkel met die konsep van die hede. Want waar daar liefde en deernis is, gaan dit om die reis, ongeag die uitkoms daarvan.  


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 Unported License.