Brief aan McGyver



Supreme Premier Sherlah McGyver

Sealpoint Siamese

Breeder: Lynell du Toit

Sire: Grand Champion Sherlah Grande Constance

Dam: Sherlah Applejack Nina (imported)

Born: 23 October 1995

Died: 16 October 2009


16 Oktober 2009


Liewe McGyver,

Ek sit by jou. Jou brose oumans lyf is swak en moeg. Jy is net vel en been. Die ouderdom het jou ingehaal. Soos dit ons almal inhaal.

Jou oë is haas toe en sit diep in hul kaste. Jou vel hang soos 'n gekreukelde inkope sak om jou spekerige bene skelet. Dis dehidrasie, want jou niere werk nie meer nie. En oom veearts kon niks meer doen om die ouderdom te keer nie.

In jou forse jeug was jy 'n trotse, lenige en sterk figuur: 'n opperste kampioen. Vir my was jy een van die heel mooiste Siamese wat ooit op hierdie aardebal geloop het.

Jou pels is steeds ongelooflik lig vir 'n robbepunt.

Jou mond is droog. Al wil ek help, sukkel jy om te sluk. Jy kan nie meer loop nie: jy strompel net swakweg. Maar jy het my kom soek vanoggend, daar in die kombuis waar ek besig was met werk. Want jy wou nie alleen sterf nie.

Nou sit ek by jou. Jy lê hier langs my. Jy is rustig, en slaap baie diep. Ek sal by jou bly. Jou asem is swak, en jou liggaam is besig om koud te word. Nou en dan lig jy nog jou kop, asof jy nog vir oulaas iets wil sê.

My liefste ou kat, vir veertien jaar was jy deel van my lewe. Ons almal se lewens. Piet, Elize en Johan. En later ook tannie Rietjie, Ouma en oom Fred.

Ek onthou hoe Elize jou gaan uitsoek het daar by Lynell du Toit. Jou boeties en sussies was almal so pragtig. En hoe oulik jy en Sunet met mekaar gespeel het toe jy klein was. En later, toe Sunet babakatjies gekry het, was jy 'n “oompie” vir hulle. Jy het dit so geniet om met die pofbal Chinchillatjies te speel, al was jy 'n Siamees.

Ja my kat, jou lewe was star-studded. Jy het Sunet help grootmaak aan sterre soos Thomas O'Malley en Crystal. Jy het self in een advertensie gewerk. Onthou jy nog: jy moes een keer saam met 'n hunk van 'n man poseer by fotos van meubels.

Jy lê nou baie stil. Dis asof die tokkel op die rekenaar se sleutels jou rustig maak. Kort-kort vat ek aan jou, en ek weet dit stel jou gerus. Maar met elke aanraking voel ek hoe die lewe uit jou gaan.

Onthou jy nog jou groot roset wat jy gewen het as Best Neuter on Show? En die week voor dit: toe jy weggeraak het? O, jy was 'n kat wat mens nie kon inhou in die huis nie. Die hele blok waarin ons huis in Stellenberg is, het aan jou behoort, met of sonder die medewete en toestemmimg van die wettige mens-eienaars. Jy het, ten spyte daarvan dat jy reggemaak was op 6 maande, jou gebied afgebaken. En gesprei.

En daai week voor die skou, toe lok die afgetrede ou oom Kotze jou in sy garage en maak jou daar toe vir die nag. Want, het hy later verdedig, jy het oor sy erf geloop en hy hou nie van katte nie. Op daardie stadium het ek nie geweet dat hy jarelank by die munisipalitiet gewerk het as die ou wat alle los-lopende troeteldiere geskut het nie. En in sy boeke was jy 'n losploper (al het hy maar al te goed geweet jy is een van die bure se katte).

Ek onthou hoe Elize en ek jou loop soek het. Sy het jou miaau gehoor: dof, maar kon dit nie peil nie. Jou miaau was so kenmerkend SIAMEES. Jy, met jou diep stem. Siestog, die laaste miaau wat jy vanoggend geggee het toe jy my kom roep het, was maar net 'n dowwe eggo.

In elk geval, oom Kotze het die volgende dag die skut gebel en jy is soontoe. Ek het nie eens geweet daar is 'n ding soos 'n skut nie, as dit nie was dat buurvrou Mariette geweet het van ou oom Kotze se streke nie. Hy het haar hond gereeld skut toe gestuur. Jy was die hele naweek in die skut, want ons moes wag vir die Maandag se kantoorure om jou daar te gaan soek. Dit was so amper of jy was dalk aan die slaap gemaak, want toe ek die skut bel, het hulle gesê nee, daar is nie 'n Siamees nie. Net een wat amper soos een lyk. Tog het ek gaan kyk, en jou daar gevind: tussen omtrent ses ander paniekbevange katte saam in een hok gedruk. Maar ... daardie Saterdag was jy Best Neuter On Show. Jou skut-storie was in die koerant, met 'n foto van jou en Elize.

Eendag het Elize 'n foto geneem van jou, met jou op haar voete. Jy het nie omgegee nie. Jy was baie lief vir haar.

Ja, jy was 'n pratige kat. Jy pryk op twee groot olieverf skilderye: een saam met Sunet, en een waar jy op Elize se skoot sit toe sy veertien jaar oud geword het. Dit was haar verjaarsdag present. Jy sal vir altyd in haar huis hang. En in hart hart.

Ai, Oubaas, jy het ook maar deur jou lewe insidente gehad. Onthou jy toe jy in die dak toegespyker was? Die bouers het aan die dak gewek, en jy het met hulle etenstyd teen die leer uitgeklim en hulle het jou daar toegeklinker. Die aand kon ons hoor hoe jy miaau – dof, en benoud. En so kon ons jou uit die dak haal... Jy het vir lank daarna op my skoot gesit en bewe met jou lyf teen my bors. Onthou jy?

Jy wou altyd jou lyf teen iemand hê as jy slaap. Soos nou. As jy my lyf teen joune voel, is jy rustig. Ek onthou hoe baie keer in die winter jy kom inkruip het onder my kombers met jou groot vlermuisore wat so koud was soos twee flappe ys.

Jy, met jou groot ore. Onthou jy hoe jy eenkeer jou ore geskud het naby Piet se kitaar, en hoe die kitaar geresoneer het daarvan. Ons het lekker gelag en gesê jy is die enigste kat wat ons ken wat met sy ore kitaar kan speel.

O, jy kon rondloop. Ons buurman se dak was een van jou gunsteling plekke. Maar, met die jare kon jy later net opklim, maar nie af nie. Dan het jy soos 'n lammetjie gesit en bler-miaau tot iemand jou kom afhaal het. Later kon jy ook nie eens meer op die bure se dak klim nie.

Jy was altyd 'n rustelose siel. As jy in was, wou jy uit. As jy uit was, wou jy in. En jy het gesprei. Met baie skade aan die huis. Eers het ons jou Mackie genoem, later Merkie. Maar ons het jou so lief gehad dat ons al jou merkery vergeef het. Want jy was lief vir ons, en jy was pret.

Ja, ons kan die dele van die huis regmaak waar jy gemerk het. Maar ons kan jou nie vervang nie.

Mackie, die tyd loop uit. Vir jou, ook vir my en ons as mense. Baie van die skou-mense wat in jou skou-tyd die aarde bewandel het, is nie meer met ons nie: Rusty Human, Ronnie Gilmour, Stella Slabber, Iain Harper... Dikwels as ek nou op katskoue kom, dan kyk ek na die ouer-wordende mense, en ek wonder: wie is volgende?

My ou kat, ek groet jou. Ek sien jou eendag weer by die reënboogbrug. Daar waar jy en Sunet en Kiara en Shani en Star en Andenika en Alexander en Captain Sunshine vir my sal wag...

Jou mens-ouma, Alida.


Creative Commons License
This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivs 3.0 Unported License.