My family‎ > ‎

Pa Jacobs


Pa van Sewe

Johan Frederick Jacobs is gebore op 31 Januarie 1919: die jaar van die groot griep. Sy eie vader is in die groot griep epidemie oorlede toe die klein baba slegs 'n paar maande oud was. Sy ma, oumagrootjie Anna (gebore Otto), was later weer getroud met Jan Labuschange.

Oupa Jacobs is die stam vader van 7 kinders: Fred, At, Alida, Johan, Hans, Dawie en Annelize.
Op foto (~1973) agter Hans, At, Johan Jacobs, Johan Delport
Middel: pa Jacobs, ma Jacobs, Alida (later Delport)
Voor op stoele: Ouma Anna Labuschagne (pa se ma), Oupa At Sadie (ma se pa), Ouma Alida Sadie
Kruisbene op grond: Dawie, Annelize

Kommandant Jacobs, Bloemhof Kommando.

Hier is twee fotos van Oupa Jacobs. Hy was 'n kranige skut en het dan ook in sy tyd die Staatspresidentsfrofee gewen met skyfskiet. Hy was kommandant van die Bloemhof kommando vir baie jare. Die jaar waarin hy die Staaspresidentstrofee vir Beste SA Skut op die kommando's se skyfskietkompetiesie gewen het, het sy geweer gebreek. Daar was nie geld vir 'n ander geweer nie. Op die foto hieronder wys dit hoe hy sy geweer met hoepels reggemaak het!
Oupa Johan met geweer  

  Die trofee wat Oupa in sy hande hou, was vir Wes-Transvaalse kampioenskappe wat hy gewen het. 
Dit bestaan uit 15 verskillende houtsoorte.

Die plaas windpomp


Om te lewe op 'n plaas met die naam Vaalrand was om te lewe op 'n vaal plek: droogte-geteisterd, swaarkry. Pa Jacobs het een jaar besluit dat daar 'n bietjie kleur op die plaas moes kom. Hy het die windpomp en watertenk geverf! Ons het die mooiste windpomp en watertenk in die hele land gehad. En was daai plaas se water nie goed nie: op 58 het ek nog al my eie tande en slegs twee klein stopseltjies! 

  
    
Met Ouma se begrafnis 22 Oktober 2011.
Oupa se windpomp staan nog, die kleure skemer steeds deur.

Dankie, Oupa Haan, dat jy my laat onthou het dat die lewe net vaal is as wil hê hy moet vaal wees.
Dat jy die beste skut in die land kon wees, al het jy jou stukkende geweer met hoepels reg gemaak.
Dat geld nie belangrik is nie, maar dat die lewe gekoester moet word. Geen geld kan 'n verlore oomblik in jou lewe terugkoop nie.